Grumman F4F Wildcat | |
---|---|
Tipe | Vegvliegtuig |
Vervaardiger | Grumman Aircraft Engineering Corporation |
Nooiensvlug | 2 September 1937 |
Status | Uit diens gestel |
Hoofgebruikers | Amerikaanse Vloot Britse Vloot Koninklike Kanadese Vloot Amerikaanse Marinierskorps |
Aantal gebou | 7 885 |
Die Grumman F4F Wildcat was 'n enkelsitplek, enkelmotorige vegvliegtuig wat deur die Amerikaners gebruik is tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die vliegtuig is eers as 'n dubbeldekker ontwerp en later verander na 'n monovlerkvliegtuig, vandaar sy unieke vorm. Vroeg in 1939 het die Franse Lugmag die eerste bestelling vir dié vliegtuig geplaas. In Augustus van dieselfde jaar het die Amerikaanse Vloot ook 'n bestelling geplaas. Nadat Frankryk aan Nazi-Duitsland oorgegee het, is hulle bestelling aan Groot-Brittanje afgelewer. Die eerste modelle het die Britse Vloot teen Julie 1940 bereik en is aan 804 Eskader toegedeel. Brittanje het die vliegtuig die Martlet genoem.
In Desember 1940 het twee Martlet's 'n Duitse vliegtuig afgeskiet en sodoende die eerste Amerikaansvervaardigde vliegtuig geword om sukses te behaal in die Tweede Wêreldoorlog. In September 1941 het 802 Eskader aan boord die HMS Audacity gegaan, die eerste sodanige Eskader. Op 20 September het die Eskader 'n Focke-Wulf 200 vernietig wat hulle konvooi agtervolg het.
Op 28 September 1941 het Martlet's van die Britse Vloot, wat diens gedoen het in Westelike Woestyn tydens die Noord-Afrika veldtog, 'n Italiaanse Fiat G.50 afgeskiet. In Mei 1942 het Martlet's van die Britse Vloot deelgeneem aan aksie oor Madagaskar teen Vichy-Frankryk. In Augustus van daardie jaar het hulle Italiaanse bomwerpers oor die Middellandse See aangeval. Op daardie stadium het die vliegtuig reeds 'n reputasie as formidabele vegter gehad.